Geskiedenis van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Noord

Boukommissie (1955-1956)
Broodblik
Eerste kerkgebou
Kerkgebou pas na voltooiing

Die vestiging van die eerste Gereformeerde gemeente noord van die Magaliesberg het ‘n betreklike lang aanloop gehad. Op 20 November 1931 is op ‘n kerkraadsvergadering van die gemeente Pretoria besluit om die ou erf wat die gemeente in Wolmer besit het, te verkoop en ‘n erf wat meer sentraal geleë was, aan te koop. Daarop is ‘n hoekerf, begrens deur Burger- en Stasiestraat, aangekoop.

‘n Boukommissie is gekies, en die kerkraadslede in Pretoria-Noord, die katkisasielede, die sustersvereniging en die Jongeliedevereniging het die eerste pogings van stapel gestuur om fondse vir die oprigting van ‘n kerkgebou in te samel. Ongelukkig het die fondse ontbreek. Uiteindelik het die kerkraad van Pretoria op versoek van die kerkraadslede van Pretoria-Noord op 13 Junie 1941 dit in beginsel goedgekeur dat ‘n kerkgebou in Pretoria-Noord opgerig mag word. Op 17 Oktober 1941, terwyl die Tweede Wêreldoorlog nog in volle gang was, is boukontrakteur J.P. Lamb aangestel om die kerkgebou op te rig.

Die bediening van die Woord het egter nie agterweë gebly nie. Ouderling H. Horn en diaken Phillip Venter het voor 1930 reeds dienste op Sondae in die huise van verskillende gemeentelede gehou. Vanaf 1931 het ds. D. Rumpff van die gemeente Pretoria een keer per maand op ‘n Sondag-middag ‘n kerkdiens in die ou Broodblik gehou. Om etiese redes was die saaltjie egter nie geskik vir kerkdienste nie. In die Gedenkboek van die gemeente se 50-jarige bestaan word berig: Saterdagaande is daar gedans en Sondag is Gods Woord daar verkondig. Dit is begryplik dat so ‘n toestand baie onwenslik was en dat dit nie lank kon aanhou nie.

Die saaltjie het ook praktiese probleme opgelewer. Een Saterdagaand moes dit maar rof gegaan het, want een van die pote van die verhogie het gebreek. Die Sondagmiddag tydens ds. Rumpff se erediens kantel die verhogie al na die een kant wanneer hy sy gewig verplaas. Onderwyl hy preek, gee hy opdrag aan ouderling Martiens Pretorius: “Broer Pretorius, kry asseblief ‘n paar bakstene en stut die verhoog.” Sonder onderbreking het ds. Rumpff voortgegaan met sy preek.

Ondertussen het die Nederduitsch Hervormde Gemeente Pretoria-Noord sy kerksaal opgerig. Een van die mooiste voorbeelde van samewerking vind toe plaas toe die Hervormde gemeente sy kerksaal beskikbaar stel vir gebruik deur die Gereformeerde Gemeente.

Dit is opvallend dat Pretoria-Noord nie formeel tot afstigting van Pretoria oorgegaan het voordat hulle ‘n eie kerkgebou gehad het nie. Diaken Maarten Smit het die planne vir ‘n kerksaal geteken en die bouwerk het in Januarie 1942 begin. Op 2 Mei 1942 is die saal in gebruik geneem.

Die gemeente Pretoria – die “Paul Kruger-kerk” – en die gemeente Pretoria-Noord het op 20 Mei 1942 ‘n ooreenkoms onderteken waarvan die eerste klousule lui: Uit die gemeente Pretoria word ‘n nuwe gemeente gestig wat die naam sal dra van Pretoria-Noord.

Aanvanklik het ds. J.A. Schutte albei gemeentes bedien, maar op 20 Maart 1943 is ds. C.E.G. Malan, vroeër van Ermelo, as eerste leraar ontvang en bevestig. Tydens die bedieningstyd van die tweede leraar, ds. W.F. Venter, is daar besonder hard gewerk om ‘n nuwe, volwaardige kerkgebou op te rig. ‘n Sierlike kerkgebou, wat tans nog in gebruik is, het op die hoek van Jack Hindon- en Genl. De Wetstraat verrys. Op 11 Augustus 1956 is die kerk in gebruik geneem.

Daar word gewoonlik feesgevier wanneer ‘n gemeente ‘n kwarteeu bestaan. Op 20 Mei 1967 was die gemeente 25 jaar oud. Die feesvieringe het egter eers op 25 en 26 Augustus 1967 plaasgevind. Die Vrydagaand was die verrigtinge aan die kinders van die gemeente toegewys. Al die sang, musiek en voordragte is deur die kinders behartig. Saterdagaand was hoofsaaklik vir die volwasse lidmate bedoel. Ouderling Daan Smit het die verrigtinge met Skriflesing en gebed geopen en die aanwesiges Ps. 84:1 laat sing. Daarna het hy ‘n kort geskiedkundige oorsig van die gemeente gegee, van die verhoog afgeklim en voor in die saal aan die voete van sy eggenote neergeval en gesterf. Die aanwesiges was stomgeslaan. Die program, wat twee en ‘n half uur sou duur, het nie voortgegaan nie. Na ‘n gebed het almal stil uiteengegaan.

In haas elke gemeente is daar ‘n gebeurtenis of ‘n persoon wat uitstaan. In die gemeente was dit die koster. Kerneels Smit het as jong seun vyf jaar lank die kosterwerk gedoen. Vanaf 1966 tot 2004 was hy ononderbroke koster. Dit is voorwaar ‘n rekord aan hierdie kant van die Magalies wat nie maklik oortref sal word nie.

Die snelle uitbreiding van die moedergemeente het tot gevolg gehad dat twee dogtergemeentes, Wonderboompoort en Akasia, tot stand gekom het.

Predikante:

Ds. C.E.G. Malan (1943-1948)
Ds. W.F. Venter (1949-1966)
Ds. J. Ligthelm (1966-1970)
Ds. N.J. Grobler (1970-1977)
Ds. J.H. van der Walt (1976-1978)
Ds. J.H. Viljoen (1978-2000)
Ds. P. van Wyk (2000-2009)
Ds. H.P.M. van Rhyn (2010-)

Uittreksel uit: “Anderkant die Magalies – Die Wêreld van die Wonderboom”
Samesteller en outeur: Loreen Nel
Beskikbaar by Zambi Kontreikoerant, Braam Pretoriusstr. 264. Kontaknommer: 012 543 0390