As deel van ons uitreik na buite het ons gemeente betrokke geraak by twee projekte:
1. Trauma-pakkies:
Pakkies met die nodige aan slagoffers van mishandeling en verkragting (vrouens, dogters en dogtertjies), word aan Akasia-hospitaal en die betrokke eenheid by die Suid-Afrikaanse Polisie in Pretoria-Noord geskenk. Tydens die aanmelding en ondersoek van die saak word op die klere van die slagoffers beslag gelê vir verdere ondersoek. Ons kon alreeds aan 20 slagoffers ‘n mate van waardigheid, liefde en omgee op hierdie manier gee.
Wat benodig word:
T-hemde (kinders alle groottes, dames: S, M, L, XL); broekies (alle groottes); tandeborsels en tandepasta; handeroom; seep; deodorant; sagte troosspeelgoed – dit kan ook tweedehands maar skoon gewas en heel wees.
Aangesien die T-hemde die grootste enkele uitgawe is, is die behoefte daaraan ook die grootste.
2. Wolmer Gemeenskapsprojek:
Dit is ‘n nie-winsgewende gemeenskapsprojek wat opheffing en bemagtiging doen onder die inwoners van Wolmer en omgewing wat hulpbehoewend is. Dit word op ‘n georganiseerde en gekoördineerde wyse gedoen en mense van die gemeenskap word betrek en opgelei om by die projek te werk. Hulle benodig:
1. Nie-bederfbare voedsel veral koffie, tee, suiker, pasta, rys, grondboonbotter, stampmielies, soja-vleis. – Die nood aan hierdie basiese dinge is groot en daar is nooit genoeg nie.
2. Goeie tweedehandse klere. Hulle het veral nou behoefte aan klere vir tieners asook warm klere soos sweetpakke, baadjies en jasse.
3. Komberse.
4. Enige naaldwerk-, handwerk- en kunsmateriaal waarvan artikels vervaardig kan word.
5. Dames wat in die middae die kinders by die naskoolsentrum kan help met huiswerk.
6. Skryfbehoeftes, papier en artikels wat by die naskoolsentrum en die graad R-klas (albei deel van die gemeenskapsprojek vir hulpbehoewende kinders uit die gemeenskap) gebruik kan word.
7. Kontant – waarmee aankope van nie-bederfbare voedsel gedoen kan word.
Baie dankie vir die skenkings wat alreeds ontvang is en met groot dankbaarheid aangewend is.
Vir verdere inligting kontak gerus vir Alet van Rhyn by 012 546 5177 of 083 277 6234.
